‘n Dubbelsnip Gallinago media (Great Snipe) op die plaas Doornfontein 374 tussen Modimolle (Nylstroom) en Vaalwater
Willem Boshoff
Op 26 Desember 2005 het ek die plaas Doornfontein besoek en ek was verstom oor hoe droog dit op die plaas was. Die normaalweg standhoudende spruit, die Sandrivier, was gereduseer tot ‘n baie klein lopie waaroor ‘n mens met redelike gemak kon spring. Weerskante van die stroom was daar plekke waar dit goed modderig was en hier en daar was daar klein modderige pannetjies met byna geen water nie. Hierdie deel van die spruit is tans onder die vlak van ‘n damwal, sowat 100 meter verder stroomaf, maar die dam was waarskynlik nie meer as 5% vol nie. Daar was net ‘n klein poel water digby die wal.
Met die afstap dam toe het ‘n snip naby die spruit uit die kort oewerplante reg voor my opgevlieg. Drie kenmerke het my onmiddellik opgeval: eerstens was die buitestertvere spierwit en besonder opvallend, tweedens het die snip met ‘n redelik stadige vlerkklap, byna moeisaam of rustig, gevlieg, derdens het die snip slegs ‘n kort entjie met ‘n boog direk van my af weggevlieg, gaan sit en tussen die plantegroei in verdwyn. Ek het om twee redes onmiddellik gedink dat dit nie ‘n Afrikaanse Snip (Gallinago nigripennis, African Snipe) kon wees nie: die vliegpatroon was heeltemal verkeerd en die snawel het vir my te kort gelyk. Kenmerkend van die Afrikaanse Snip is juis dat hy gewoonlik nie reguit nie, maar met ‘n sigsag-patroon, ver wegvlieg voordat hy weer gaan sit. Dikwels kan ‘n mens hom weer vind in die omgewing waar hy gaan sit het. Voorts is sy opvallende lang snawel vir my ‘n kenmerk in vlug.
Die klein illustrasie van Newman se veldgidse (1984:105, 1996:105) het dadelik by my opgekom. Daar dui hy ‘n slingerende vliegpatroon vir die Afrikaanse Snip en ‘n direkte boogvlug vir die Dubbelsnip aan. Nadat ek die veldgidse van Newman (1984:104-5, 1996:104-5) en Sasol (2002:186-7) geraadpleeg het, het ek geen twyfel gehad oor die uitkenning nie. Alhoewel Newman nie in die teks gewag maak van die helder wit aan weerskante van die stert nie, beeld sy klein illustrasie van die Dubbelsnip in vlug dit wel uit. Albei se beskrywing van die Dubbelsnip as “’n seldsame somerbesoeker” het my egter huiwerig gemaak om te opgewonde te raak. ‘n Opmerking in die Transvaalse atlas, wat deur Viljoen geëggo word, het my egter agter die boeke laat inskuif toe ek later by die huis kom: “Any future Transvaal reports of this species should be carefully documented and verified” (Tarboton et al 1987:100) en “Enige moontlike waarnemings moet aangemeld word” (Viljoen 2005:204). Ek het die waarneming ook telefonies met Mostert Kriek en Peter Milstein bespreek en hulle het albei gemeen dat die kenmerke op ‘n Dubbelsnip dui. Peter Milstein het ook sonder meer twee foto’s beskikbaar gestel wat hy op 11/9/1971 tydens beringing by die Chualemeer in Mosambiek van ‘n Dubbelsnip geneem het. Die foto’s word hier met sy toestemming gepubliseer.
Op 30 Desember 2005 is ek saam met Koos Pauw en Ray en Helen Biran terug plaas toe om te gaan kyk of ons die snip weer kon opspoor. Byna onmiddellik nadat ons by die dam aangekom het, het ‘n Afrikaanse Snip voor ons opgevlieg en al die kenmerkende Afrikaanse Snip dinge gedoen: hy het vinnig, slingerend en laag vir omtrent 60 meter weggevlieg en gaan sit waar ons hom ‘n rukkie later weer opgejaag het en hy dieselfde weer in die teenoorgestelde rigting gedoen het. Ons het hom drie kere gesien en kon die kenmerkende wit onder die pens duidelik sien, terwyl die spierwit buitestertvere van die Dubbelsnip ooglopend ontbreek het. Daarby was sy lang snawel elke keer in vlug opvallend. Hierdie kenmerke en gedrag het bevestig dat die ander snip nié ‘n Afrikaanse Snip was nie.
Toe ons in die gebied kom waar die rivier normaalweg in die dam invloei, het Koos Pauw en Helen Biran ‘n snip gesien wat van die modder af op ‘n dooie boomstomp geklim het. Toe ons beweeg het hy opgevlieg en skaars vyf meter weg buite sig op die modderoewer gaan sit. Ek het nader beweeg en net toe ek naby kom het hy met ‘n direkte boogvlug dwars voor ons verby in die lang riete in gevlieg en omtrent tien meter verder gaan sit en verdwyn. Die spierwit buitestertvere was duidelik uitkenbaar en die relatief korter snawel Ons het genoeg gesien om te bevestig dat dit ‘n snip was en dat die vliegpatroon totaal anders was as die Afrikaanse Snip wat ons toe reeds verskeie kere dopgehou het. Die belangrikste kenmerke (wit buitestertvere en direkte en kort boogvlug) was baie duidelik te sien en ek het geen twyfel oor die uitkenning van die Dubbelsnip nie. ‘n Besoek aan die plaas tydens die daaropvolgende naweek deur Trevor Hardaker het niks opgelewer nie.
‘n Oorsig oor die literatuur
Die beste beskrywings en illustrasies van die Dubbelsnip het ek in drie boeke oor waad- en jagvoëls (Viljoen 2005:203-4; Hockey & Douie 1995:247-8; Richards 1988:123-4) en in Lars Jonsson (1993:252-3) se Europese veldgids gevind. Veral Jonsson en Hockey & Douie se illustrasies was van baie groot hulp.
Hockey & Douie (1995: 247) vestig die aandag op die feit die Dubbelsnip nat toestande nodig het om te wei, maar dat hulle nie afhanklik is van oop water, soos damme of panne nie. Hulle verkies moerasagtige plekke soos vloedvlaktes en tydelik oorspoelde gebiede en hulle kom dikwels in dieselfde habitat as die Afrikaanse Snip voor. Clancey (1996:91) meld dat hulle in suidelike Mosambiek ook langs dreineringskanale, langs bewerkte lande voorkom. In sy veldgids vir Botswana meld Newman (1989:64) na ‘n uitstekende beskrywing dat die Dubbelsnip uiters sporadies in die Linyanti-Okavangostreek voorkom en dat hulle kort gras rondom alkaliese panne en droeër grond as die Afrikaanse Snip verkies.
Dis duidelik dat getalle van die Dubbelsnip gedurende die Twintigste Eeu dramaties afgeneem het. Richards (1988:123) dui die suidelike oorwinteringsgebied in Suider-Afrika aan as ‘n groot halfmaan wat van noordelike Namibië ooswaarts tot in Mosambiek sterk en dan suidwaarts tot in die Weskaap. Dit is grootliks onakkuraat. Meer akkuraat is die kaart in Sinclair & Ryan (2003:170) wat klaarblyklik van die resultate van die SABAP gebruikgemaak het en wat aandui dat die verspreidingsgebied nie ver suid van die Okavango- en Zambesiriviere sterek nie.
Hockey & Douie (1995:247) meld dat Dubbelsnip gedurende die tweede helfte van die Negentiende Eeu nie skaars was in die Transvaal, Natal en Oos-Kaap nie, maar die laaste rekord van die voël in Suid-Afrika is een wat tussen 1904 en 1907 in Pondoland geskiet is, totdat een weer in 1984 by die St Luciameer gevind is.
• Cyrus & Robson (1980:13) vermeld ‘n verdere waarneming gedurende September 1970, maar oordeel dat dit bevestig moet word en lys die Dubbelsnip onder die voëls van Natal waarvan die verspreiding merkbaar afgeneem het (1980:25).
• Tarboton et al (1987:100) dui dieselfde tendens vir die Transvaal aan en meld dat Ayers tussen 1876 en 1885 ten minste 15 Dubbelsnippe by Potchefstroom versamel het.
• In die Weskaap is ‘n Dubbelsnip gedurende die Negentiende Eeu op die Kaapse Vlakte versamel en onbevestigde berigte lui dat die voël ook by die Olifantsrivier en by Porterville waargeneem is (Hockey et al 1989:94).
• Wat die Ooskaap betref is die volgende inligting uit die Transkei ter sake: Die welbekende kunstenaar CG Finch-Davies was van 1893 tot 1914 in die Transkei gestasioneer. Quickelberge (1989: 57) meld dat Rev R Godfrey rapporteer het dat Finch-Davies die Dubbelsnip dikwels in vleilande by Lisikisiki en Bizana gevind het, maar dat dit nie so algemeen by Matatiele was nie.
Dit is interessant om te sien hoe Roberts en ander standaard studies, soos die SAOS Checklists traag was om die afnemende getalle van Dubbelsnip in Suid-Afrika te reflekteer:
• Gill (1940:143) meld dat uitsonderlike voorbeelde van Dubbelsnip omtrent op enige plek kan opduik, dikwels op redelik droë grond en gewoonlik, maar nie altyd nie, in die somer.
• Roberts (1940:104) beskryf die voël bloot as ‘n besoeker wat slegs gedurende die somermaande in Suid-Afrika verskyn (Roberts I).
• McLachlan & Liversidge (1957:135) beskryf die verspreidingsgebied soos volg: Aangeteken in die Oos-Londen distrik en van Potchefstroom af noordwaarts, met ‘n ou aantekening uit die Kaapse Afdeling (Roberts II; dit bly die beskrywing tot by Roberts IV, 1978).
• Die eerste Checklist of the Birds of South Africa (Winterbottom 1969:87) beskryf die Dubbelsnip as ‘n palearktiese besoeker aan Oos- en Suid-Afrika wat skaarser word hoe verder suid ‘n mens gaan.
• Die tweede SAOS Checklist of Southern African Birds (Clancey 1980:73) beskryf die Dubbelsnip as ‘n besoeker, veral aan die Ooskaap, Natal en Zululand en noordwaarts in die ooste. Dit is ook gelys in Namibië en is na bewering in die Suidweskaap versamel.
• Maclean (1984:254) sê die Dubbelsnip in suidelike Afrika is wydverspreid in noordelike Zimbabwe, suidelike Mosambiek, Transvaal; asook Owamboland; met geen onlangse rekords vir Natal tot by die Ooskaap nie. Hy meld dat die getalle oënskynlik afneem (Roberts V; dit bly so in Roberts VI, 1993).
• Hockey et al (2005:342-343) bied ‘n goeie oorsig van die historiese en meer onlangse waarnemings (Roberts VII).
‘n Unieke patroon van veranderde verspreiding oor die afgelope eeu geld vir die Dubbelsnip.
• Waar daar vóór 1920 geen rekords van Dubbelsnip in Zimbabwe was nie, is die meerderheid van die veertig waarnemings sedert 1955, asook die grootste konsentrasie (van vier), juis in Zimbabwe aangeteken (Hockey & Douie 1995:247; Hockey 1997:770). Dit is veel minder as die groep van meer as twintig Dubbelsnippe wat in 1899 by Durban saam gesien is. Die veranderde verspreidingspatroon mag die resultaat wees van landbou-aktiwiteite in Suid-Afrika (waar vleilande drooggelê is) en Zimbabwe (waar vleilande oënskynlik beskikbaar gekom het) (Hockey & Douie 1995:247).
• Penry (1994:292) vermeld vyf waarnemings van Dubbelsnip in Botswana tussen 1967 en 1989. Hy meen die voël word maklik misgekyk en dat dit moontlik ‘n gereelde jaarlikse besoeker aan die noordelike vleilande kan wees.
• Underhill et al (1999: 85) meen dat die Dubbelsnip moontlik steeds ‘n skaars besoeker aan noordoos Namibië mag wees. Winterbottom (1971: 96) verwys na rekords uit Ondangwa, Namakunde en Omaruru. Brown (s.a.:26) dui die verspreidingsgebied aan as Ovamboland en Caprivi. ‘n Geringde voël is in Julie 1967 in Ondangwa, Namibië herwin. Die voël is tien maande tevore in Finland bering en die herwinningsdatum van 15 Julie is moontlik eerder die datum van aanmelding as die datum waarop dit werklik gevind is (Underhill et al 1999: 85).
• ‘n Verdere Dubbelsnip is op 11 September 1971 by die Chualemeer in Mosambiek (25° 01´ S, 32° 55´ O) deur P le S Milstein bering (persoonlike mededeling, sien meegaande foto’s) en Clancey (1996:91) meld ‘n waarneming by Marracuene, net noord van Maputo en verder verskeie waarnemings noord van die Saverivier. (Vir geografiese besonderhede: Clancey 1996:304, National Geographic Maps 2003:109).
• In suidelike Malawi word die Dubbelsnip aangedui as “seisoenaal redelik algemeen” by die Chilwameer, oos van Zomba en op die Mosambiekse grens (Newman et al 1992:55, National Geographic Maps 2003:140,149).
• In Zambië kan die Dubbelsnip in die somermaande op enige plek in nat grasveld opduik, maar dit kom voor in klein getalle en word min aangeteken (Aspinwall & Beel 1998:78).
Die Dubbelsnip is nie ‘n alledaagse verskynsel nie. Die waarneming op die plaas Doornfontein het my op ‘n ontdekkingstog in die literatuur geneem wat ek graag met ander voëlkykers deel. Ek vertrou dit sal iemand interesseer. Daarmee het ek ook probeer om iets te doen aan die versoek dat waarnemings van die Dubbelsnip sorgvuldig rapporteer moet word.
Geraadpleegde bronne
Aspinwall, DR & Beel, C 1998. A field guide to Zambian birds not found in southern Africa. Lusaka: Zambian Ornithological Society.
Clancey, PA (ed) 1980. S.A.O.S. Checklist of Southern African birds. S.l.: South African Ornithological Society.
Clancey, PA 1996. The birds of southern Mozambique. Westville: African Bird Book Publishing
Cyrus, D & Robson, N 1980. Bird Atlas of Natal. Pietermaritzburg: University of Natal Press.
Gill, EL 1940. A first guide to South African birds. (Second Edition). Cape Town: Maskew Miller.
Hockey, PAR 1997. Great Snipe, Dubbelsnip, Gallinago media. In: Harrison, JA, Allen, DG, Underhill, LG, Herremans, M, Tree, AJ, Parker, V, Brown, CJ (eds), The atlas of southern African birds. Vol. 1: Non-passerines. p. 770. Johannesburg: BirdLife South Africa.
Hockey, PAR, Dean, WRJ, Ryan PG (eds) 2005 Roberts – Birds of Southern Africa. (Seventh edition). Cape Town: The Trustees of the John Voelcker Bird Book Fund.
Hockey, PAR & Douie, C 1995. Waders of southern Africa. Cape Town: Struik Winchester.
Hockey, PAR, Underhill, LG, Neatherway, M, Ryan, PG 1989. Atlas of the Birds of the Southwestern Cape. Cape Town: Cape Bird Club.
Jonsson, L 1994. Vogels van Europa, Noord-Afrika en het Midden-Oosten. Baarn: Tirion.
Maclean, GL 1985. Roberts’ Birds of Southern Africa. (Fifth Edition). Cape Town: The Trustees of the John Voelcker Bird Book Fund.
Maclean, GL 1993. Roberts’ Birds of Southern Africa. (Sixth Edition). Cape Town: The Trustees of the John Voelcker Bird Book Fund.
McLachlan, GR & Liversidge, R 1957. Roberts Birds of South Africa. (Revised Edition). S.l.: The Trustees of the South African Bird Book Fund.
McLachlan, GR & Liversidge, R 1978. Roberts Birds of South Africa. (Fourth Edition). Cape Town: The Trustees of the John Voelcker Bird Book Fund.
National Geographic Maps 2003. African adventure atlas. S.l.: Maps International, National Geographic Maps.
Newman, K 1989. Newman’s Birds of Botswana. Johannesburg: Southern Book Publishers.
Newman, K 1984. Newman se voëls van Suider-Afrika. Johannesburg: Macmillan.
Newman, K 1996. Newman se voëls van Suider-Afrika. (Die Groen Uitgawe). Johannesburg: Southern Boekuitgewers.
Newman, K, Johnston-Stewart, N, Medland, Bob 1992. Birds of Malawi: A supplement to Newman’s Birds of Southern Africa. Lilongwe: The Wildlife Society of Malawi.
Penry, H 1994. Bird atlas of Botswana. Pietermaritzburg: University of Natal Press.
Quickelberge, CD 1989. Birds of the Transkei: An ornithological history and annotated catalogue of all recorded species. Durban: Natural History Museum.
Richards, A 1988. Shorebirds: A complete guide to their behavior and migration. New York City: Gallery Books.
Sinclair, I, Hockey, PAR, Tarboton, WR 2002. Sasol voëls van Suider-Afrika. (Derde uitgawe). Kaapstad: Struik.
Sinclair, I & Ryan, PG 2003. Birds of Africa south of the Sahara: A comprehensive illustrated field guide. Cape Town: Struik.
Tarboton, WR, Kemp, MI, Kemp, AC 1987. Birds of the Tranvaal. Pretoria: Transvaal Museum.
Roberts, A 1940. The Birds of South Africa. London, Johannesburg: The Trustees of the South African Bird Book Fund.Underhill, LG, Tree, AJ, Oschadleus, HD, Parker, V 1999. Review of ring recoveries of waterbirds in southern Africa. Cape Town: ADU, University of Cape Town.
Viljoen, PJ 2005. AGRED se jagvoëls van Suid-Afrika: Velduitkenning en bestuur. Houghton: AGRED.
Williams, AJ s.a. Popular checklist of the birds of South West Africa/Namibia. Windhoek: Dept of Agriculture and Nature Conservation, South West Africa.
Winterbottom, JM (ed) 1969. Check list of the birds of South Africa. S.l.: South African Ornithological Society.
Winterbottom, JM 1971. A preliminary check list of the birds of South West Africa. Windhoek: SWA Scientific Society.